Bitterheid
Party dae wil ek in 'n gat kruip en nooit weer daar uitkom nie. Die wêreld om jou gaan aan maar dit voel asof jy stil staan, mense stuur gereeld nog boodskappe om te hoor hoe dit gaan, maar meeste van die tyd voel ek nie eers lus om iets terug te stuur nie. Die ander halfte wil natuurlik weet "gaan julle weer probeer", en "moenie worry nie jy gaan gou weer swanger raak" en en en.
Die vraag is wil ek nou dadelik nog 'n kind hê, ek het myne dan nog nie eers 4maande terug verloor nie. Ek weet self nie die antwoord op daai vraag nie, een dag voel ek "so" en die volgende dag nie. Ek weet nie meer nie, al wat ek weet is dat hierdie die moeilikste pad is wat ek nog gestap het in my lewe..."smile en wave" het deel geraak van my daaglikse routine. Mense wil tog nie elke dag van jou ellende hoor nie.
Ek probeer so hard om positief te bly, maar party dae is dit flippen moeilik. Ons was 'n hele paar meisies wat saam swanger was die jaar, van hulle het al hul babatjies en van hul moet nog kom...ekt niks...net mooi niks want 'n mens kan nie 'n gebroke hart "iets" noem nie. Die laaste ding wat ek is is selfsugtig, en ek bid regtig elke liewe aand vir almal en als en al die babas en mammas ens ens ens. Ek het agter gekom dat ek die laaste paar dae eintlik net alleen wil wees, ek is nie lus vir mense nie, nie lus vir eet nie, nie lus vir mooi maak en make-up nie, ek besef dat ek besig is om in 'n donker gat te val, maar hoe kom ek hier uit...'wil ek hier uit'?
Ek "top" nou al die laaste paar dae oor my facebook blad, dis so "in your face" so maklik om jou telefoon optetel en die facebook icon te druk, is dit op hierdie stadium wat ek nodig het...is dit wat ek wil hê...is dit wat ek wil lees...? Nee nee nee nee is my antwoord, dit is nie! Ek kom al hoe meer agter dat dit dinge is wat ek op facebook sien en lees wat my emosionele toestand vererger. Kom ek wees eerlik, maak nie saak hoe bly ek vir 'n persoon is nie, dit is immers vrek moeilik om te sien en lees van almal se adorable babatjies, en NEE dis nie hulle skuld nie, want glo my, my hele facebook sou vol van Minke se fotos gewees het, maar ek cope net nie goed met sulke goed op die oomblik nie, ek dink dat ek my hopeloos te sterk probeer hou en nou hardloop dit my in van agter. Ek was veronderstel om teen nou my kind in my arms te hê, die Here weet alleen maar dis moeilik, ek voel so bitter...bitter teen als.
My facebook blad het ek vandag toegemaak, so ons sal sien hoe dit van hier af gaan, ek het sommer die app ook delete van my foon af en het ook laat die IT ou dit blok op my rekenaar. Sodra ek mentally op 'n beter plek is sal ek dit weer activate, maar vir nou is my fokus op belangrikker dinge.
Ek bly op my kniee, en ek Glo, nie altyd so maklik nie, maar party dae is beter as ander. Bid asb elke dag vir my!